Feeds:
Bydraes
Comments

Liewe Kersvadir . . .

Liewe Kersvadir,

slee2

Ek hoop jy’t my eersti brievie gikry. Maar oorlat ek weet jy’s baia besig en oorlat hondirdi dysindi miljoeni kindirs almal vir jou brievies stier, stier ek weer hierdie eni en ek sit hom op my brievieblok.

Ek het ook vir Kervadir ‘n iemyl en ‘n teligram en ‘n sms gestier. Ek wil nie pla nie, ek wil net sekir maak my brievie kom ook daar yt. Daar by die noortpool met die baia snieuw en die takbokki. En die elvies wat in die pirsentfabriek werk.

slee

Ek hoop die vabriek is darim warim binni in solat die elvies nie kout kry nie. My ma sê snieuw is baia kout. Ek het nog nie selv snieuw gisien nie. My pa sê dit sal snieuw as gelt op sy rug groei, nou kyk ek elki dag maar ek sien nog niks gelt op my pa se rug nie. Ek kan ook nie mooi sien nie, my pa wil nie hê ek moet na sy rug kyk as hy stort nie. Nou kyk ek maar as hy sondir sy hemp gras sny, maar ek sien nog niks blari nie. Gelt groei mos in bomi, issit nie Kersvadir? Nou wonder ek hoekom my pa sê dit gaan op sy rug groei? Ek moet dit net kry voor my ma dit sien, sys al al die gelt pluk en winkils toe gaan en dan kry ek niks nie.

My ma sê as ek wartlimoen pitti insluk gaan die wartlimoeni in my maag groei en by my ori uitgroei. Ek wonder of my pa senti ingeslik het dan groei dit by sy rug yt? Dit klink mos nie reg nie, hê Kersvadir?

Ek was baia baia soet hierdie jaar. Ek het nie my boetie gepla nie en elke aand die skoon skorrelgoet weg gipak. Ek het al my vyl kleri in die mainkie gigooi en my foeti afgivee as ek van byti af kom. Ek deel ook my melk met Spykir maar nie my koekies nie, my ma sê tjoklits is nie goed vir hondi nie. Spykir hou van melk, hy drink sommir yt my glas yt.

Spykir was ook soet, Kervadir kan maar vir hom ook pirsenti bring. Hy hou van biltong en vlys en koekies. Hy hou nie van groenti nie.

Ekke wil assibliev niewi fetkryti hê solat ek vir mamma en pappa mooi prenkies kan tekin. En baia pampieri – grotis ook solat ek groooooooot prenkies kan tekin. Ek wou vir mamma op die gang mier ‘n grooooooot prenkie tekin met my ou vetkryti, maar sy wou nie. Toe verf ek dit maar met my watirverf maar my ma het nie gedink ek is oulik nie. Ek moes dit weer af was. En dit was ‘n mooi  prenkie van Ariel ondir die see – met allis blou water.

Ek moet nou eers nog pampier gaan soek, die brievie raak nou lank en my potloot is ook amper klaar. Ek sal nou nou weer verdir skryv, dis nou eers tyt vir my en Spykir se koekies en melk.

(vervolg)

Liewe Tannie Skoor,

Hoe gaan dit met tannie Skoor? Met my gaan dit goed. Dis net baia warm. My pa sê dis so warm die kraaie gaap. Ek het probeer kyk, maar die kraaie wil nie stilsit solat ek kan sien of hilli gaap nie. Hille skree net. As hilli nie skree nie, dan vlieg hilli.

Weet tannie Skoor dis al ampir Kersvees? Ek was baia soet hierie jaar solat ek baia pirsenti kan kry. Ek hoop oom Kersvadir bring vir my ‘n niewi pop en vetkryti. Sam het al my vetkryti opgi-eet en daar was sikki snaaksi kleur hondi bollie op die gras.

My ma is nie lekker nie, sy is biekie deurmikaar. As ek haar pla as sy werk of die kykinkies wil vryf of langs die dam speel sê sy ek moenie skoor soek nie. Dan sê ek vir haar ek soek nie vir tannie Skoor nie, ek weet waar tannie Skoor op die nekenaar bly. Dan sê my ma ek moenie vir my snaaks hou nie.

My ma maak vir ons al die kossies wat tannie Skoor op tannie se blok van virtel. Ek hou die meesti  van die poediengs wat my ma vir ons maak van tannie se risepti af. Die eni mettie koekies was baia lekkir. Die eni mettie neuti innie futsh was ôk baia lekkir.

Tannie Skoor moet assibliev nie ophou om van risepti te vertel nie. As my ma nie weet wat om te maak nie, dan kyk sy op tannie Skoor se blok. My pa weet al wanneer my ma daar by tannie Skoor gaan draai het want dan kry ons ietsie niets wat ons nog nie gi-eet hettie. Dis baia lekkir. Maar dit werk nie altyt so goetie want as my ma haar sepies kyk dan vigeet sy van die kos op die stoov of in die oont en dan moet ons broot eet.

Ek hou van kaikie bottir en rooi djam op my brooikie maar nie elki dag nie.

Ek dink ek moet vir Kersvadir nog ‘n brievie skryv, dalk het hy nie my andir eni gekry nie. Het tannie Skoor al vir Kersvadir geskryv? Tannie Skoor moet gou maak, hy is baia besig.

Liefde

Pokkeljonsie

Liewe tannie Pikkie innie blikkie,

met my gaan dit goet, hoe gaan dit met tannie? My ma het vir my tannie se blok giwys en ek hettie votoes van tannie se kinnirs daar gisien. Ek dink tannie Pikkie se dogtirkie Catherine is baia mooi. My ma het my giwys hoe om haar naam te spel. Dis ‘n lang naam en het baia lank givat om dit te skryv. Tannie se sienkie is ook oulik. Ek speel lekkir saam met die sienkies karriekies en aalies hier op die plaas.

My besti pop se hari kril ook so soos tannie Pikkie se dogtirkie sin. My pop se naam is Mary en sy’s ook Engils. Sy is baia soet as ons skool speel en sy kan al spel ook. En sy praat nie trig nie want sy weet haar boudi sal brant.

Eendag as my ma vir tannie Pikkie kom kuier sal ek vir Mary saam bring. Dan kan tannie se dogtirkie ook sien hoe sy lyk en hoe soet sy is. Mary is my heel fyw faaiw fywiritsti beste pop. Sy hou van misiek lystir en tee drink. Dan gidra sy haar soos ‘n regti lydie. My ma sê ek moenie dink ek is ‘n lydie en daarom hoev ek nie my kamir skoon te maak nie. My ma is baia kwaai. Tot my pa bly yt haar pad yt as sy op die oorlogspad is.

Eintlik mag ek nie nou hierdie brievie skryv nie, my ma het my kamir toe gistier om my kasti reg te pak. Maar ek issie lis nie. Ek sal vir tannie ‘n prenkie tekin van Mary want dit mag dalk nog lank wees voor ons kom kyir. En teen daardie tyd het ek dalk al vir Mary opgispeel – of sy vir my . . .

Ek sal weer skryf as ek die prenkie pos.

Lekker naweek.

Liefde groete

Pokkeljonsie

Liewe oom Plasie,

ek sê maar oom Plasie, want my mamma sê jou naam is oom Piedjy, maar daar is sekiri woordi wat ek nie van hou om te sê nie. Dis nie mooi manieri nie. Ek hoor die mensi praat sommir so lelik elki dag en dis woordi wat aan my harkie raspir. Ek het eendag my fingir raak geraspir toe ek wortils moes klyn maak vir sop en dis baia seer. Sjoe, dit het baia gebloei. My ma sê mens noem dit kras. Ek weet nie wat kras is nie, maar ek is sekir dis nie mooi nie.

Eendag as ek groot is wil ek met oom Plasie trou. Jy moenie dat tannie Lyfie jou opgibryk nie, hoor oom Plasie, daar moet nog vir my ook oor wees as ek groot is. My ma sê oom Plasie is baia goet vir tannie Lyfie. Ek weet tannie Lyfie het Sondag virjaar. Ek hoop sy het lekkir virjaarsdag gehou.

My ma sê oom Plasie het vir tannie Lyfie winkils toe gevat en gesê sy kon kies wat sy wil. Sjoe oom Plasie, my pa sallit nie waag nie! Hy sê ons sal hom ‘n bankrot maak. Ek het nie geweet banki het rotti nie! Sies! Ek sal maar my tannigelkie onder my kissing hou. Nounou eet die rotti my gelkies op!

Ek hoor oom Plasie is baia lief vir tannie Lyfie. Ek is bly. Ek wil ôk eendag ‘n man hê wat so lief is vir my soos oom Plasie vir tannie Lyfie. Eni wat help kos kook en winkils toe gaan en wasgoet was en brêkvis maak en soenkies en drikkies gee. En goetirs koop. Ek hou van persenti. Ek sal die heli winkil leeg koop as ek net ‘n halwi kans kry. Ek hoop nie tannie Lyfie het vir oom Plasie ‘n bankrot gemaak nie. Daar moet mos oorbly vir my ôk!

Tannie Lyfie het vir my gisê sy is baia baia baia baia lief vir oom Plasie. Nie oorlat jy vir haar so baia persente gee nie, maar oorlat jy so lief is vir haar oom Plasie. Ek dink nie tannie Lyfie het baie van daai gikry toe sy klyn was nie. Tannie Lyfie het vir my gisê sy is net so baia lief vir my ook. Ek is baia lief vir altwee van jilli, hoor oom Plasie? Baia baia.

Ek moet nog my briefie vir Kersvadir skryf oorlat Kersvees om die draai is en ek wil nie hê oom Kersvadir moet van my virgeet nie. Ek was baia soet hierdie jaar. Miskien kan ek vir oom Kersvadir vra lat hy vir oom Plasie en tannie Lyfie mooi moet oppas sodat ek nog baia by jilli kan kyir. En baia pirsenkies kan kry. Ek kan mos so vra, hê oom Plasie?

My hant is nou seer giskryf en ek gaan nou eers vir tannie Lyfie ‘n pirsenkie soek.

Liefdigroeti

Pokkeljonsie

Liewe Ant Rosa . . .

Liewe Ant Rosa,

met my gaan dit nog goed. Hoe gaan dit met Ant Rosa?

My ma sê Ant Rosa is wel bilese . . . wat bitekin dit, hê? Ek wetie van bilese nie, ek ken net van lees. Bitekin dit die mensi lees vir Ant Rosa? Soos in bivoel? Ek virstaan nie. Issit lekkir om gilees te word, Ant Rosa? Blaai die mensi jou soos ‘n boek? Jy moet vir hilli sê hilli mag nie jou blatsye omvou nie, hilli sal pak kry. My ma sê Ant Rosa is BAIE slim. Ek is bly, ek hou van slim mensi.

My ma raps my as ek boeki se blatsye omvou. Maar sy virstaan nie dat ek virgeet waar ek was nie dan merk ek my plek so. Toe ek vir haar sê dat ek my plek so merk, toe’s sy kwaat. Sy sê mens vou nie boeki se pinti om nie. Toe maak sy vir my ‘n boekmerk. Nou kan ek hom insit waar ek gilees het sodat ek weet waar ek was.

Die enigsti poevies kom as die boek pirongilik val en die boekmerk uitval. Dan weet ek nie meer waar ek was nie en dan moet ek oor bigin. En dit vat laaaaaaaank want ek lees nog staadig.

My pa sê Ant Rosa kyir die heli wêrild vol. Oe maar dis lekkir! Ek wil ok nog eendag al die plekki sien waar Ant Rosa was. My pa wys my al die fotoes op Ant Rosa se blok. Die  meesti van die plekki lyk maar stowirig, ek weet nie of ek soentoe wil gaan nie. Ek nies vir stof.

Dit het by ons gireen laas week en allie bome is nou mooi groen. Die plaasdam is nou weer vol en die gansi swem lekkir in die watir. Die gras grei groi groei nou so finnig my pa sê dit gaan my onnir my arms kielie as hilli nie vinnig gisny wort nie. Ek hou nie van mensi wat my kielie nie. Ek lag altyt so baie dat ek moet piepie and dan moet ek vinnig hartloop andir maak ek dit nie.

Ek hou ook nie van die anties wat my wang so knyp en dan sê hilli kyk die oulike klein mysiekie. Ek kryp altyt weg as die tannies kom kyer. My pa ôk. Hy hou ook nie van die tannies wat net wil koek en tee die heli dag nie. Hy sê hy het te veel werk om ti doen, hy het nie tyt vir ginni gaap nie. Ek weet nie hoe lyk ‘n ginni gaap nie Ant Rosa, weet jy?

Oe wag, hier is een van daai tannies weer. Ek gaan my pa in die skier help. My wang is nog seer van laas week.

Baai Ant Rosa.

Liefde

Pokkeljonsie

Oom H3 se wyts . . .

Liewe tannie BB,

wyts

ek het toe ‘n prenkie getekin van oom H3 se wyts wat hy opgitel het by die kompitiesie. Die wyts was te groot, ek kon nie vir oom H3 in die prenkie inkry nie.

Ek het nog baia briewi wat ek moet skryv. Ek gaan nou eers eet en dan gaan ek speel en dan moet ek gaan slapies want dis ti warm om byti te speel. As ek klaar gislapies het kan ek weer biekie byti speel.

Liefdi

Pokkeljonsie

Liewe Tannie Wipnees,

hoe gaan dit met tannie? Met my gaan dit goet.

My ma het my vertel van al die fiekies in tannie se tyn. Sy sê daar is dysi hondi baie fiekies en kaboutirkies en fiekiehysies en allirhandi annir goetirs in Tannie Wipnees se tyn.

Wat maakie fiekies daar Tannie Wipnees? Bly hilli daar in jou tyn? Gee jy vir hilli kos om te eet en sappies om te drink Tannie Wipnees? Pas hilli vir jou op of pas jy vir hilli op? Sal Shyn hilli nie op eet nie? Ek het sy fotoe op tannie se blok gesien en dit lyk of hy lekkir kan eet. Issie fiekies nie bang vir hom nie?

Hê Tannie Wipnees? My ma sê fiekies is baia spesinjaal en mens moet mooi na hilli kyk. Hilli verf die blomiekies se blari as die lenti kom met mooi verf solat hilli vroolik kan lyk. En help die bye om heening yt te haal en die ander blommiekies te bestyv. En leer die voolkies om te sing. Ek dog nog altyt voolkies weet self hoe om te sing? My mamma sê die fiekies leer hilli.

Ek hou van jou tyn Tannie Wipnees. Jou tyn is baia mooi. Ek hou ok van jou fiekies. Ek sal eendag vir jou kom kyir en dan moet jy vir my jou fiekies wys. Issit reg so, Tannie Wipnees?

Dan maak ons so. My ma sê dis ‘n afspraak. Haai! Ekki gaan ok ‘n afspraak hê!

Ek gaan nou eers die fiekies in ons eie tyn soek Tannie Wipnees. Ek hoop nie Stevaans en Lettie het hilli op ge-eet nie. Ek sal hilli jaag.

Lekker dag en stier groeti aan jou fiekies van Pokkeljonsie af.

Liefde

Pokkeljonsie

Liewe tannie BB

Met my gaan dit nog goed en met tannie BB? Ons is baie besig hier op die plaas, dit is nou plant tyd. Maar dis baie warm. Die hoendirhane se foete brand op die warm sand, so warm is dit. Dan klim hilli op die heniekies se rugge en spring daar rond. Die heniekies hou nie daarvan nie, hilli probeer die hani afskit maar die hani klou want hilli wil nie hilli foete brant nie.

Ek hoor tannie BB het ‘n plek gewen in die potkiekos kompitiesie daar by die plek waar oom H3 werk. Jislaaik tannie BB, dan kan jy mos lekkir kook? Ek hoop dit was lekkir. Ons het gaan kyk Satirdag aant toe oom H3 gekompitiesie het. Sjoe maar hy’s sterk! Hy’t sikki groooooot massils. Hy maak sommer so op en af en dans dit klaar en dis baie swaar goeti daai! Wyts, noem oom Plasie dit. Ek het proebeer om ‘n klein wytie op te tel, maar my arms wou nie. Hilli het net so regyt gehang onnirtoe en kon nie die wyt optel nie, al het ek vir hilli gesê hilli kan, ag probeer net, sê ek vir hilli. Maar niks. Hilli willie.

Ek sien tannie Malkoei het my hiernatoe geskyf. My eie plekkie waar ek kan skryf en prenkies teken. Nou kan ek skryf soos ek wil en nie worrie oor hoe nie. Ek sien tannie Malkoei skryf nie meer daar by haar blok nie. Dis jammir, ek het partykeer gehou vannie goete wat tannie Malkoei skryf.

Maar nou sal ek maar briefies vir almal skryf. Dink jy dis ‘n goeie plan tannie BB? Dan kan ons lekker gesels.

Ek het nie vandag tyd virri preknie nie, ek sal volgende keer eni teken. Ek moet nou eers vir Stevaans gaan afjaag, hy sit die armi Lettie sommer so plat in die stof.

Lievde groeti

Pokkeljonsie

kasteel

Liewe Tannie Malkoei

My ma sê tannie gaan saam met tannie BB see toe. Sonder oom Plasie! Alafelala! Het tannie Malkoei darem vir oom Plasie gevra eers? En hy het ja gesê? Oom Plasie is dan darim baie dierbaar, nê tannie Malkoei? Gaan tannie nie baie na hom virlang nie? Ek weet ek sal as ek so ‘n oulike man soos oom Plasie gehad het. Tannie Malkoei sal vir oom Plasie ook op vakansie moet vat dan kan hy bietjie rus.

Tannie Malkoei moet liewirs tannie se eie grafie saam vat. Ek hoor tannie BB gaan vir tannie Malkoei begrawe in die sand. Ek moes dit seker nie gehoor het nie want my mamma het my gestuur om te gaan speel en sy doen dit net as hulle iets wil gesels wat ek nie mag hoor nie. My mamma sê kleine muisies het grote ore. Issit so tannie Malkoei? Ek het al probeer kyk na die muise in die skuur, maar hulle hartloop te vinnig en wil nie kom as ek hulle roep nie. Al gee ek vir hulle kaas. Hou muise dan nie so baie van kaas nie tannie Malkoei? Al my storie boeke het prenkies van muise wat kaas eet. Miskien hou plaas muise nie van kaas nie.

Ek het ‘n blou emmertjie en rooi gravie waarmee ek altyd op die stand speel. Ek bou kastele. En dan sit ek skulpies en klippies op my kasteel dan lyk dit mooi. Maar die volgendi dag is al my bouwerk weg want die see het dit weggespoel met hoog water, sê my pa. Ek weet nie lekker hoe lyk hoog water nie, tannie Malkoei. Water is dan altyd plat? Die grootmense praat baie snaaks.

Weet tannie Malkoei wat? Raai. Nee man, raai weer. Dis amper Kersfees!!!!!!!!!!!!!!! Ek wonder of ons nou al vir Kersvader ‘n briefie kan skryf hê tannie Malkoei? Dink jy dis te vroeg? Maar ek wil eerste wees sodat die elfies solank aan my persente kan begin werk. Laas jaar het ek ook vir Kersvader ‘n briefie geskryf maar ek dink dit was te laat want hy het nie my briefie gelees nie. My ma sê baaaaaaaaie kinders stuur vir Kersvader brievies vir Kersfees. Ek het gevra virri viets en ‘n hondkie en ‘ n kuikin en ‘n Barbie en ‘n Spidirman en ‘n hantsak en ‘n tediebeer. Maar al wat ek gekry het was vetkryt en babbels en boeke en klere en sikke ander pop met rooi hare.

Ek en die plaashonde het lekker met die babbels gespeel tannie Malkoei. Ek het dit geblaas en dan hap hulle dit. En dan nies hulle van die babbels.

Ek sal my mamma vra sy moet vir jou my grafie en emmertjie leen tannie Malkoei. Dan kan jy lekker op die strand speel. Maar jy moet julle weer terug stuur hoor tannie Malkoei, ek wil weer met hulle speel as ons see toe gaan. Ek het vir tannie ‘n prenkie van ‘n kasteel geteken sodat tannie kan sien hoe dit moet lyk.

Nou is my hand eers moeg en ek sal later weer skryf. Lekker vakansie hou tannnie Malkoei en kom gou terug na oom Plasie toe hoor!

Liefde

Pokkeljonsie

by

Dis Pokkeljonsie hier. Hoe gaan dit nog met jou? Met my gaan dit goed. Ek is net moeg vandag. Die naweek was laaaaaaaaank.

Ons het op Springs gaan kuier die naweek. Ek dink die grootmense is simpel, hoe kan hulle die plek Springs noem en daar is nie een spring in die strati nie? Ek het gekyk en gekyk tot my oge later seer was, maar niks. My mamma het my vertel van warm water wat uit die grond uit loop maar ek het ook geen water in die straat gesien nie.

Oom S is baie snaaks Oom Wosonki. Hy vertel vir die ander ooms van steek en dan is daar nie eers bye naby nie. Ek het baia stil onder die stoel gesit want ek wil nie hê die bye moet my steek nie. Dis baie seer as ‘n by jou steek, Oom Wosonki. Dit brand soos ‘n koolkie wat uit die vuur spring. Baie seer. Oom S het vertel van oom Joos en sy gestekery. Sjaim, hy was seker vol plysters geplak want my mamma plak vir my ‘n plyster op as die by my steek. Oom S sê dis niemant se saak wie hy steek nie. Ek het nie geweet oom S het ok ‘n angil nie Oom Wosonki. Ek het so onder die stoel deurgekyk, maar ek kon nie oom S se angil sien nie. Hy sê as hy iemand wil steek, het dit niks met enigiemand anders te doen nie. Hy sal steek wie hy wil.

Ons het lekkir braaifleis geet en daar was poedieng ook. Die aartapils was die lekkerste van allis. Ek hou baia baia van aartapils oom Wosonki. My mamma sê ek is ‘n aartapilkint. Dit was baia njammies.

Ek gaan nou maar slaap. Ek het my verstirs styv toegimaak sodad die bye nie in my kamir kan inkom nie.  My mamma het nie gedink ek was snaaks toe ek haar vra oor oom S se gestekiry nie. Sy sê kindirs mag nie tanni tel by die grootmense nie. Maar ek het nie Oom Wosonki, ek wou net sien waar sit oom S se angil. Hy beri hom sekir in sy sak as hy hom nie gebryk nie.

Lekker lalies Oom Wosonki.

Groeti

Pokkeljonsie

Older Posts »